Ouer sonneblomme is bekend daarvoor dat hul blomkoppe ooswaarts na die son gerig is, sodat dit soggens in volson staan en smiddae in die skadu is.
Suid-Afrikaanse en Amerikaanse plantkundiges het onlangs gewonder wat die gevolg is as dit nie gebeur nie. Die navorsingspan het ouer sonneblomplante wat in potte gegroei het, gedurende veldproewe en onder beheerde toestande weswaarts gedraai sodat hul blomkoppe eers smiddae volson kon geniet.
Dié blomme was reeds te oud om nog te kon ronddraai agter die son aan, soos wat die geval met jonger blomme met sagter stingels is. Só is gevind dat die mikroklimaat van die blomkoppe wat vroegoggend skadu pleks van die gebruiklike volson geniet, wesenlik verskil.