
Dit het tot dusver sedert April gemiddeld skaars 100 mm gereën en minstens nog soveel is nodig om ’n gemiddelde oes te realiseer.
“Dis ’n baie interessante, maar baie riskante jaar. Ons sal aan die einde van die jaar dalk sien wat ons moes gedoen het,” meen mnr. Cobus Bester van UD Boerdery by Moorreesburg.
Hulle het net 85 en 110 mm reën gekry. Dis die helfte van hul normale reënval tot einde Julie. “Die meeste mense voel ons het nog 100 mm nodig om die oes deur te trek.”
Volgens hom het hulle reeds opbrengspotensiaal by koring ingeboet toe dit 30 dae later as gewoonlik opgekom het. Die droogte kan die verlies verdiep.
Hulle het nie juis weiding nie, en voer nog hul diere. Hul medics staan vuurhoutjiebokshoogte en as hulle nie gou reën kry nie, sal hulle dalk vir die eerste keer in 16 jaar nie medics kan baal nie en dus die voertekort na volgende jaar oordra.
Een van die kenmerke van vanjaar se graan en kanola is hoe ongelyk dit is. Links en regs van die N2 tot op Riviersonderend was daar op 3 Augustus heelwat kanola wat al ver geblom het en ander wat pas begin het. Bester, wat nie kanola verbou nie, sê die kanola by ander boere in sy omgewing is nou waar dit einde Mei moes wees.Mnr. Jurianne Schreuder wat by Hopefield boer, sê hulle is dankbaar. “Dit lyk nie sleg nie en ons gesaaides is baie laat en ons het nie baie vog om mee te werk nie. Maar dis nie kritiek by ons nie.”
Hy meen die stand is gemiddeld, selfs bogemiddeld, maar die weiding is skraps. “Baie boere voer nog hul diere. Die weidingjaar is vir ons ’n probleem.”
‘Gelukkig bly dit koel’
By Riversdal sê mnr. Jan-Hendrik Joubert van Uitkyk dat dit droërig is, maar dat die graan onder die omstandighede mooi is.
Hulle het nog nie veel reën gekry nie. “As jy die bietjies bymekaartel, sal jy seker by 100 mm uitkom. Ons het een keer 30-35 mm gehad, maar verder is dit ’n paar millimeter, net genoeg om die graan aan die gang te hou. Gelukkig bly dit koel.”
Volgens hom begin die graan nou swaarkry, maar hy glo die potensiaal is vasgelê en as dit binnekort reën, sal dit deurtrek na oestyd toe.
“Die are begin uitkom en een van die dae is dit blomtyd. As dit dán droog is, kry ons nie aar-vulling nie.”
Hy sê die kanola wat betyds geplant is, is baie mooi, maar dié wat later geplant is, kry swaar. “Die weiding is goed, maar dit groei nie meer nie, want die water is opgebruik.”