
Graan SA wag vir die toepassing van ’n alternatiewe stelsel om oudits vir dieselkorting voor April 2013 af te handel, sê mnr. Corné Louw, senior ekonoom: Bedryfsdienste van Graan SA.
Louw skryf in die jongste nuusbrief van Graan SA dat die oorspronklike ooreenkoms met die SA Inkomstediens (SARS) om alternatiewe inligting te gebruik om dieseleise te ondersteun, skipbreuk gely het. Die was weens ’n tekort aan inligting vir sekere bedrywe.
Die jongste terugvoer is dat SARS ’n alternatiewe voorstel aan die Tesourie gemaak het en nou vir terugvoer wag. Wanneer die voorstel goedgekeur word, word dit vir kommentaar gepubliseer, voordat dit toegepas kan word.
Uitbetalings gaan kom
Louw sê sommige produsente wat voor April 2013 ge-oudit is en nie die oudit geslaag het nie, se nuwe BTW-eise word teruggehou. Dit is met SARS bespreek en 'n toegewyde persoon is aangewys om hierdie sake op 'n individuele basis op te volg om BTW-eise weer uit te betaal.
Volgens Louw is dit van groot belang dat produsente streng boek hou van dieselgebruik vanaf 1 April 2013. Agri SA en Graan SA het kommentaar gelewer oor hoe 'n logboek behoort te lyk, maar daar is nog nie uitklaring vanaf SARS daaroor gekry nie.
Intussen word produsente aanbeveel om die minimum inligting wat tans deur die wet vereis word, by te hou, deur middel van 'n logboek by hoofverspreidingspunte, wat die volgende inligting bevat:
Datum wat diesel ingegooi is.
Hoeveelheid diesel wat ingegooi is.
Beskrywing van die voertuig.
Rede waarvoor diesel aangewend is.