Deur dop te hou hoe hulle dit doen, kan ’n mens baie oor hul welstand leer, sê navorsers van die Linköping-universiteit in Swede in ’n verklaring op AlphaGalileo.org. Hulle het groepe kuikens dopgehou in ’n spesiale “speelplek”, en in die proses 14 verskillende soorte speelaktiwiteite by hulle geïdentifiseer.
Dit het gewissel van die optel van voorwerpe in hul bek en die rondjaag van mekaar tot ’n speelse stampery teen mekaar. Die kuikens se spelery bereik teen 6 tot 7 weke ’n hoogtepunt.
Dit is omtrent die tyd wanneer kuikens in die natuur onafhanklik van hul ouers sou raak. Prof. Per Jensen, die navorsingsleier, meen die manier waarop diere speel, dui aan hoe hulle voel. Dit kan gebruik word om die welstand van diere waarmee daar vir kos geboer word, te bevorder.