Nog nooit, in elk geval nie so lank as wat ek kan onthou, het Suid-Afrikaners ’n nuwe jaar so mismoedig en gefrustreerd binnegegaan nie. Kyk, dit is reeds ’n reuse-aanpassing om die hele skoonfamilie oor die vakansie in jou huis te hê, maar om dit boonop tydens fase 6-beurtkrag te moet doen, het baie van ons warm onder die kraag gelaat. Letterlik en figuurlik.
Om alles te kroon, moes ons in Januarie hoor dat hierdie situasie ons werklikheid vir die volgende twee jaar gaan wees. Nie dat enigiemand in alle eerlikheid regtig verbaas is nie. Vir nou konsentreer baie van ons daarop om die dag te oorleef.
Om egter jou langtermyn- en aftreebeplanning agterweë te laat, kan skadeliker wees as om nou nie sonpanele op te sit nie. Daar is twee vrae wat gereeld vir my oor aftrede gevra word: Hoekom moet ek nou reeds daarvoor beplan? En as ek beplan, hoe moet ek dit doen?