Almal wil tog vir hulself rykdom skep. Die manier om dit te doen, is deur te spaar. Jy kan deur harde werk alleen net soveel doen, want as jy nie ’n groot deel van jou inkomste spaar nie, het jy uiteindelik ook maar niks. Sommige mense hou van direkte aandelebeleggings. En dit is goed, solank jy die risiko’s verstaan.
Kortom, jy moet genoeg geld in genoeg verskillende aandele belê sodat jy diversifikasie in jou belegging kan inbou. Diversifikasie – in verskillende aandele en ook in verskillende ekonomieë oor die wêreld heen – is een manier om risiko te beperk.
Dit kom basies daarop neer dat jou hele beleggingsportefeulje nie daarmee heen sal wees as die mark val nie. Ander verkies konserwatiewer beleggings, soos rentedraende instrumente, waaronder kontant of effekte (moet dit nie verwar met effektetrusts nie).