My ma is in Januarie oorlede. My ouers was binne gemeenskap van goedere getroud. My pa het die erf waar hulle gebly het, 52 jaar gelede gekoop voor hulle getroud is en ook dan later die huis daarop laat bou. Die akte is nooit deur die bank verander om my ma op die akte by te voeg as eienaar van die eiendom nie. Ons het dit nou eers uitgevind met die boedel wat afgehandel moet word. Die bank is aangewys as eksekuteur. Die bank vra ons R15 800 om die huis te laat oordra op my pa se naam (hy is die erfgenaam soos omskryf in die testament). Hoe kan hulle ’n eiendom oordra op my pa se naam as dit reeds net op sy naam geregistreer is?
Die eiendom is 52 jaar terug slegs op die naam van jou pa geregistreer terwyl hy ’n ongetroude persoon was. Met sy huwelik daarná binne gemeenskap van goedere het die erf die bate van die gemeenskaplike boedel geword en was albei jou ouers elk ’n eienaar van een halwe onverdeelde aandeel in die eiendom.
Dit gebeur vanweë die werking van die Wet op die Registrasie van Aktes (Wet 47 van 1937), wat bepaal dat alle eiendom wat ’n ongetroude persoon besit, die eiendom van die gemeenskaplike boedel word indien hy of sy daarna binne gemeenskap van goedere trou.