Dit is Vrydag 16 Desember 2022. Die aarde is sag en modderig ná dae se milde reën, en wolke hang blouwitgrys op die horison, terwyl die Modderrivier op die agtergrond bruisend deur die landskap kronkel.
Gewoonlik daag van die boere met hul perde by die Geloftefees op, maar met die dreigende donderweer wat die diere kan ontsenu, was hulle versigtig. Die geesdrif by die Perdeberg-boereverenigingsaal is aansteeklik.
Mnr. Marnus Nel, voorsitter van die Geloftefees-komitee en ’n boer in die omgewing, en mnr. Frans du Toit, sy skoonpa, wat naby Abrahamskraal boer, skarrel. Inligtingsborde met foto’s uit die Anglo-Boereoorlog (ABO) word op die buitemure van die saal onder ’n dak gehang.