
Die Perold Absa Cape Blend-kompetisie wat deur Absa en die Pinotage-vereniging aangebied word, word gewilder onder wynmakers. Sowat 25 inskrywings is verlede jaar ontvang en vanjaar moes beoordelaars 45 wyne proe om die wenners aan te wys.
Mnr. Brienne van der Walt, hoofbestuurder van Absa Agribesigheid, sê hulle is opgewonde oor die vooruitsigte vir die kompetisie wat in 2010 begin is. “Ons verwag dat dit later soveel voordele aan produsente sal gee om as wenner vir dié kompetisie aangewys te word as wat met die Absa Top 10 Pinotage-kompetisie die geval is.”
Tydens die Absa Pinotage-mediatoer het Van der Walt gesê wenners van genoemde kompetisie sê wynverkope neem skerp toe wanneer hulle een van die pryse wen.
Vyf wenners vanjaar
Vir die eerste twee jaar van die kompetisie kon slegs drie wyne die Cape Blend-kompetisie wen, maar vanjaar is vyf wenners aangekondig. Die wenners sal die kans kry om volgende jaar wynlandgoedere in Portugal te gaan besoek om meer oor hul versnitpraktyke te leer.
Die vyf wenners is in alfabetiese volgorde: Anura LB Cape Blend 2012, Clos Malverne Spirit of Malverne 2011, KWV Abraham Perold Tributum 2011, Sumaridge Epitome 2009 en Viljoensdrift River Grandeur Cape Blend 2011. Volgens die bepalinge van die kompetisie moet die wyne wat ingeskryf word, minstens 30% of hoogstens 70% inheems gekweekte Pinotage-kultivars bevat.
Mnr. Charles Hopkins, voorsitter van die beoordelaarspaneel, sê die vyf wyne wat gewen het, is toonbeelde van skoon, suiwer vrug waar die kultivargeure seëvier en nie koffieagtige houtgeure nie.“Die topwyne is besonders kompleks en gaan met verloop van tyd in wonderlike sagte wyne ontwikkel en ek voorspel meer verouderingspotensiaal as by sommige enkelkultivarwyne.”
Die wenners is tydens die mediatoer by The Marine-hotel op Hermanus aangekondig.
Op die meegaande foto verskyn: Voor van links is mnre. Lance Bouma (Anura), Johann Fourie (KWV) en Gavin Patterson (Sumaridge). Agter links is mnr. Fred Viljoen (Viljoensdrift) en me. Suzanne Coetzee (Clos Malverne).