Die gratis databasis wat strepieskode-inligting oor die genetiese materiaal van verskillende langhoringkewers in Suid-Afrika bevat, kan die suikerrietbedryf help om ’n ontluikende plaag, Cacosceles newmannii, te bestry.
Dié kewerspesie kom natuurlik in Suid-Afrika, Mosambiek en Eswatini voor, tipies op inheemse plante. In 2016 is ’n uitbreking by suikerriet die eerste keer waargeneem, by Ntumeni in die noorde van KwaZulu-Natal.
Sedertdien is insekkundiges en landboukundiges bekommerd dat dit ook na suikerrietgebiede elders in Suid-Afrika en op die vasteland kan versprei. Die databasis se samestelling is gefinansier deur die Suid-Afrikaanse suikerrietnavorsingsinstituut.