Baie mense is lief daarvoor om ’n familielid of vriend as eksekuteur aan te stel, al het daardie persoon geen kennis van boedeladministrasie nie. Dit is nie slim nie. Dit is vals gemoedsrus. Die probleme wat jy vir naasbestaandes kan skep met die onoordeelkundige aanstelling van ’n eksekuteur kan blywende skade aanrig.
Finansieel vir erfgename, asook in familieverband. Kinders raak aan die baklei oor hul pa se geld. Ek het dit al gesien. Soms staan hulle, ná ’n string beledigings en beskuldigings van oneerlikheid, teen mekaar in die hof. En daar gaan nog ’n klomp geld uit die boedel. En broederliefde is anderkant die horison verby.
Tweede huwelike en kinders uit vorige huwelike wat as eksekuteurs aangestel word, is myns insiens ’n resep vir moeilikheid. Om my punt te staaf, hieronder is die feite in ’n saak in die Wes-Kaapse hooggeregshof (Brimble-Hannath vs. Hannath en ander, 2021).