
Die laaste werk word gedoen aan ’n dokument wat die pad op maatskaplike en ekonomiese vlak vir die landbou vorentoe sal uitstippel. Dié dokument is die gevolg van samesprekings tussen belanghebbendes in die bedryf en arbeidsverteenwoordigers, onder die wakende oog van adjunk-pres. Kgalema Motlanthe.
Motlanthe is deur pres. Jacob Zuma aangestel om die proses te bestuur ná die geweld in die Wes-Kaap oor lone van plaaswerkers. Verteenwoordigers van die eenheidsforum vir die landbou (Asuf) is onlangs ingelig dat die dokument binnekort voltooi moet word vir ondertekening deur Motlanthe. Dit moet na verwagting in Oktober openbaar gemaak word.
Verteenwoordigers van Asuf het aan verskeie prosesse rondom die dokument en besprekings daarvan deelgeneem. ’n Verwysingsgroep het ’n paar keer daaroor vergader. Verskeie belanghebbendes kon hul standpunte stel.
Voorstelle oor Nedlac
’n Voorstel dat die gebruik van Nedlac en die prosesse daaraan verbonde moontlik nie gewens vir die situasie en die dokument is nie, is aan me. Mildred Oliphant, Minister van Arbeid, voorgehou. Mnr. Johan Pienaar, verteenwoordiger van Asuf en adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA, sê hulle meen Nedlac is ’n ligaam wat met algemene beleidsake gemoeid is, en dat ’n ander proses eerder gevolg moes word.
Oliphant het egter besluit dat die Nedlac-proses die korrekte een is, veral omdat nie alle belangegroepe voorheen gemeen het dat hul bydraes in ag geneem is nie. Sy het volgens Pienaar ook opdrag gegee dat spesifiek aandag geskenk moet word aan die verslag wat die Buro vir Voedsel en Landboubeleid (BFAP) oor die verhoging van lone en die impak daarvan op boerdery geskenk moet word.
Pienaar sê hulle het ook voorgestel dat die bepalinge van die Nasionale Ontwikkelingsplan en die Geïntegreerde Groei- en Ontwikkelingsplan ook in die dokument vervat moet word. Asuf sal finale kommentaar oor die dokument lewer sodra dit beskikbaar is.