In die praktyk word boedeleienaars soms geadviseer om bates uit hul persoonlike boedel te verskuif na ander instellings of mense, en veral trusts, om die finansiële gevolge van egskeiding vry te spring.
Onder normale omstandighede sou dit heel aanvaarbaar wees as ’n boedeleienaar besluit om bates na ’n trust te verskuif om boedelbeplanningsdoelwitte op lang termyn te bereik. Uiteraard moet bates op die regte wyse geskuif word.
Daar moet gebruik gemaak word van óf ’n skenking óf ’n armlengte-verkooptransaksie om die bates te verskuif. Daar is ook ander, ingewikkelde metodes, soos om ’n bate te gebruik vir ’n aandeletransaksie, maar dit word vir die doeleindes van hierdie rubriek buite rekening gelaat.