Bewaringsboerdery het aan Moolmanshoek ’n lewenslyn gegee, en danksy perde, wat talle as ’n bodemlose geldput afmaak, kon dié grasboer die somme laat klop.
Ekotoerisme hoef nie ’n aks terug te staan vir gevestigde, konvensionele boerderyvertakkings nie. Op die plaas Moolmanshoek by Ficksburg, vandag ’n gesogte vakansiebestemming, het die Nels dit laat werk en hulle as grasboere gevestig nadat hulle moes toesien hoe die bogrond ná elke harde reënbui wegspoel.
Mnr. Willie Nel vertel van ’n tyd toe medeboere gedink het ’n diepgewortelde saaiboer op meer as 3 000 ha wat ophou plant, is sy varkies kwyt. Aanvanklik het Nel twaalf jaar lank die gewasverbouing van sy skoonpa, mnr. Hendrik Erasmus, voortgesit, en tussendeur ook met melkbeeste en skape geboer.