Daar is ’n verskil tussen morele waardes en etiese beginsels. Morele waardes rig ’n mens se gedrag en etiese beginsels verskaf die manier waarop jy behoort te handel in die werkplek, tuis en op straat. ’n Kliënt verwag die beste uitkomste vir die dag van aftrede en afsterwe as boedelbeplanning gedoen word.
Dié beplanning moet sorg dat die kliënt ingeligte besluite kan neem oor sy of haar geldsake, wat insluit sy of haar maandelikse begroting (inkomste en uitgawes), spaar- en beleggingsmoontlikhede vir doelwitte soos studiegeld, oorsese reise of vir die koop van eiendom, lewensversekering vir sakerisiko’s en kapitaaltekorte, korttermynversekering, werknemersvoordele en inkomstebeskerming.
Dit is kommerwekkend dat baie kliënte se “boedelbeplanning” nie alle aspekte in ag neem nie. In baie gevalle is daar bloot nie genoeg kontant nie of daar is te veel kontant, maar die polisse is verkeerd gestruktureer.