Familieboerdery is steeds die ruggraat van die landboubedryf in Suid-Afrika. Daarom is dit van deurslaggewende belang dat hierdie boerderye oor geslagte heen oorleef.
Die sleutel lê in deeglik bestuurde opvolgbeplanning, sê prof. Elmarie Venter, direkteur van die Nelson Mandela-universiteit se eenheid vir familieondernemings. Venter, Theo Vorster en George Robertson is medeskrywers van die boek Familieboerderye in Suid-Afrika.
Venter het in ’n virtuele aanbieding op prof. Johan Willemse se landboumark-seminaar gesê sowat 80% van alle landbouprodusente in die land is familieondernemings. Meer as 50% van die primêre landbouprodukte kom van familieondernemings ouer as drie geslagte.