Onlangs lees ek Chuck Swindoll se boek oor Dawid van die Bybel, David: A Man of Passion and Destiny. Daar is só baie te leer uit sy lewe en hoekom hy die man na God se hart genoem is.
Die skrywer het egter nie geskroom om Dawid se foute uit te wys nie, en die lesse uit sy familiemoeilikheid het my aan my eie landboufamilie laat dink. Wanneer ’n familie van buite bedreig word, is dit gewoonlik iets wat hulle nader aan mekaar trek, en hulle kom beter en sterker anderkant uit.
As die bedreiging of krisis van binne is, lei dit meestal tot groter konsternasie. Baie familiemoeilikheid kan bloot met goeie dissipline opgelos of ten minste in die regte rigting gestuur word. Daarvoor is sterk leierskap nodig. ’n Afwesige “pa” vererger die probleme, soos in Dawid se geval.