Die 65-jarige mnr. Tony Katz was ná sy landboustudie in veekunde eers ’n tydelike werker op skaapplase in Kalifornië en Montana, waarna hy in 1981 na Suid-Afrika teruggekeer het om op plase te werk. Sedert 1992 was hy by die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal betrokke tot sy af- trede in 2020.
Katz het reeds in 1994 die geleentheid gesien vir Oakdale-leerlinge om op Amerikaanse plase te gaan werk as deel van die MAST International-program van die Universiteit van Minnesota, wat indiensopleidingsgeleenthede vir jong landbouwerkers van reg oor die wêreld bied. Katz het al 235 landbouwerkers gehelp om in Amerika te gaan werk deur hulle in verbinding te bring met boere wat werkers soek om hul oeste af te haal. Dit sluit ook nie-Oakdalers en mense van in die vyftig in.
Katz en een van sy oudskoliere, mnr. Reynier Malan wat in Montana gesetel is, het saam ’n werwingsagentskap, Big Sky Labor Solutions, vir die H-2A- tydelike werkprogram gestig.