Bouwerk aan die 30 cm-verhoging van die muur van die inlaatkanaal tot die Brandvleidam, die naasgrootste dam in die Wes-Kaap, sal na verwagting einde vanjaar voltooi wees. Die werk het in Januarie vanjaar begin. Die waarde van die bouwerk is na raming R20 miljoen.
Die dam verskaf water aan die Breëriviervallei, die vierde grootste wynproduksiestreek in Suid-Afrika waar wynproduksie heeltemal van besproeiing afhanklik is en waar boere ook toenemend hoërwaardegewasse plant.
Mnr. Louis Bruwer, uitvoerende hoof van die Sentraal-Breërivier-watergebruikersvereniging, sê die Groter Brandvlei-staatwaterskema bestaan uit die Brandvlei- en die Kwaggaskloofdam, wat teenaan mekaar lê. Wanneer die watervlak hoog is, vorm dit een dam.