AFGRI
BEAN
30 Sep
-
9390
34,00
CORN
30 Sep
-
4810
22,00
SOYA
30 Sep
-
9520
128,00
SUNS
30 Sep
-
10240
35,00
WEAT
30 Sep
-
7115
15,00
WMAZ
30 Sep
-
4926
34,00
YMAZ
30 Sep
-
4839
46,00
AMT
Ave Wool - Non RWS
16 Sep
-
166,31
0,00
Ave Wool - RWS
16 Sep
-
174,76
0,00
Beeste A2/3
16 Sep
-
60,68
-0,67
Beeste AB2/3
16 Sep
-
56,6
-0,92
Beeste B2/3
16 Sep
-
52,85
-1,51
Beeste C2/3
16 Sep
-
50,84
1,51
Bevrore Hoender
16 Sep
-
31,02
-0,01
Bokkies (onder 30 kg)
16 Sep
-
75,48
18,07
Bokooie
16 Sep
-
45,78
3,28
Groot (meer as 40 kg)
16 Sep
-
44,01
5,77
Hoender (IQF)
16 Sep
-
30,23
0,48
Medium (30-40kg)
16 Sep
-
53,08
10,03
Pork Average
16 Sep
-
27,22
-0,34
Poultry Average
16 Sep
-
31,03
-0,15
Skaap A2/3
16 Sep
-
95,57
2,81
Skaap AB2/3
16 Sep
-
86
2,91
Skaap B2/3
16 Sep
-
79,77
0,66
Skaap C2/3
16 Sep
-
75,06
0,47
Speenkalf
16 Sep
-
37,59
-0,66
Spekvarke
16 Sep
-
27,98
-0,75
Stoorlammers
16 Sep
-
43,3
0,38
Varkwors
16 Sep
-
22,4
-0,17
Vars Hoender
16 Sep
-
31,83
-0,92
Vleisvarke
16 Sep
-
27,17
-0,28

Gesamentlike grondeis: ‘Saam gaan ons die ding doen’

akkreditasie
Die Moletele-gemeenskap is vennote met die Komati-groep in ’n lemmetjieprojek vir AB InBev. Hier is, van links, mnre. Milaan Thalwitzer van die groep, Albert Thabane, voorsiter van die Moletele-eienaarsvereniging, en Josh Hammann, hoof van SAB se landbou­afdeling, met die aanplanting van die eerste bome vir hierdie projek.
Die Moletele-gemeenskap is vennote met die Komati-groep in ’n lemmetjieprojek vir AB InBev. Hier is, van links, mnre. Milaan Thalwitzer van die groep, Albert Thabane, voorsiter van die Moletele-eienaarsvereniging, en Josh Hammann, hoof van SAB se landbou­afdeling, met die aanplanting van die eerste bome vir hierdie projek.
Met een van die grootste en duurste restitusie-eise in Suid-Afrika skaaf Hoedspruit se Moletele-gemeenskap geduldig aan sy verhouding met kommersiële boere om te wys die agterdog waarmee grondeisers dikwels bejeën word, is nie altyd geregverdig nie.

Met een van die grootste en duurste restitusie-eise in Suid-Afrika skaaf Hoedspruit se Moletele-gemeenskap geduldig aan sy verhouding met kommersiële boere om te wys die agterdog waarmee grondeisers dikwels bejeën word, is nie altyd geregverdig nie.

Met ’n grondeis van byna 80 000 hektaar in Limpopo se Hoedspruit-omgewing is die Moletele-gemeenskap s’n een van die grootste restitusie-eise in Suid-Afrika. Die gemeenskap is vanaf die 1920’s tot die 1970’s deur die staat van sy grond verskuif om plek te maak vir kommersiële landbou.

“Dit was in die vroeë 1600’s dat die MaPulana-mense uit Swaziland gevlug het om hulle in Limpopo en Mpumalanga se Laeveld te vestig. Dit was daardie tyd toe daar baie gevegte in Swaziland was,” vertel mnr. Phillion Bollelo Malapane, een van die oudstes van die Moletele-gemeenskap. “Ons is deel van die MaPulana-mense.”

In sy motivering vir die grondeis skryf mnr. Mashile Mokono, die eertydse provinsiale grondeisekommissaris, dat die Moletele-gemeenskap tradisionele kommunale grondregte geniet het wat met die aankoms van wit boere tot goedgunstige verblyfreg afgegradeer is en later het hulle bloot huurarbeiders geword.

“Diegene wat nie bereid was om vir die wit boere te werk nie, kon nie hul vee laat wei nie,” sê Malapane. “Hulle het die trekpas gekry.”

Soos die verhale van die migrasie uit Swaziland, lê baie van hierdie geskiedenis in die Moletele-volksmond.

Dit is van geslag tot geslag oorvertel, maar van dit het Malapane self beleef toe mense verskuif is om plek te maak vir die bou van die Blyderivierpoortdam.

Hy onthou die vragmotors van die staat wat vanaf 1965 kort-kort opgedaag het om mense en hul besittings op te laai en elders te gaan vestig.

“Hulle het vir ons gesê dit is tydelik. Dat die regering ’n plek sal kry waar hulle ons heeltyds sou vestig, maar daar het niks van gekom nie. Ons is van huurarbeiders op ons eie grond verskuif na plekke waar ons bywoners onder vreemde stamme se hoofmanne geword het.”

Mnr. Albert Thabane (links) is die voor­sitter van die Moletele-­eie­naars­vereniging en mnr. Elphas Mathole (regs), een van die komiteelede, konsentreer op die gemeenskap se uitstaande restitusie-eise. Mnr. Phillion Bollelo Malapane (middel) is een van die gemeenskap se ouer lede wat self nog die verskuiwings vanaf hul stamgrond beleef het.

’N NUWE ERA

’n Jonger geslag glimlag gemoedelik terwyl Malapane vertel hoe swaar die verskuiwings vir hom en sy tydgenote was. In hul geheue lê die lewe op Moletele-grond nie só diep geëts nie. Hulle het maar by hul ouers en grootouers gehoor hoe dit was toe die Moleteles nog baas van hul eie plaas was.

Hulle vestig hul aandag nie op die verlede nie, maar op die toekoms en op die grond wat hulle reeds deur die restitusieproses teruggekry het en nog hoop om terug te kry. Waar hul ouers en grootouers eens wydverspreide lappies grond vir huishoudelike groente- en graanbehoeftes bewerk het, is nou kommersiële vrugteboorde vanwaar produkte na die hele wêreld uitgevoer word.

Waar die families se beeste, bokke en donkies eens gewei het, is nou private wildreservate waar toeriste elke jaar derduisende dollars, euro’s en ponde kom bestee.

Tot dusver is sowat 7 142 hektaar van die grond wat die Moleteles geëis het, aan hulle terugbesorg. Die grond wat teruggegee is, bestaan uit 42 titelaktes waarvoor die staat R183,2 miljoen betaal het, dus een van Suid-Afrika se duurste restitusieprosesse. Eienaarskap is oorgedra aan die Moletele-gemeenskapeienaarsvereniging, wat tans onder die voorsitterskap van mnr. Albert Thabane, ’n skoolhoof van Laerskool Madile, is.

Hy en sy komitee sien om na die belange van die meer as 4 000 Moletele-mense wat oor die jare oor die land versprei het. Die meeste van hulle bly egter steeds in die Hoedspruit-omgewing en baie werk op die plase wat deur die gemeenskap geëis is. Een van die komiteelede, mnr. Elphas Mathole, dien ook in die gemeenskap se restitusiekomitee.

Sy klem is op die grondeis van ongeveer 63 000 hektaar wat nog nie afgehandel is nie. In die meeste gevalle betwis grondeienaars die geldigheid van die eis op hierdie grond in die hof.

Dit is ’n stadige proses. Die Moletele-eienaarsvereniging meen die staat kan baie doen om die proses te versnel. “Baie van die grond wat ons geëis het, is in staatsbesit,” sê Mathole.

“As ons vir die minister kan raad gee, sal ons sê: Dra daardie grond aan ons oor, want ons mense se geduld raak op. Ons is wetsgehoorsame burgers en wil die proses reg benader, daarom bly ons geduldig met die howe en boere, maar hoekom moet ons vir die staat wag?”

Van die grond wat geëis is, sluit die Hoedspruit-lugmagbasis, Telkom- en Transnet-persele en natuurreservate, soos die Swadini-reservaat, in.

Thabane en Mathole sê die gemeenskap droom al jare daarvan om hul grond te bestuur. Die eerste poging om dit terug te eis, dateer sover terug as 1995 voordat die verskillende eise in 2003 onder die Moletele-grondeis saamgevoeg is.

Die Moletele-gemeenskap verhuur die plaas Richmond met sy pakhuis aan die maatskappy Richmond Kopano Farming, waarin die Komati-groep die grootste aandeelhouer is.

VERANTWOORDELIKE BURGERS

“Ons het ’n grondgebruikplan vir die hele eis, maar moes dit aanpas om dit wat ons het te bestuur, terwyl ons wag vir die res van ons grond. Dit maak dit moeilik, want ons moet in landsbelang optree, terwyl ons ook na die behoeftes van ons mense omsien,” sê Thabane.

Op die grond wat reeds aan hulle oorgedra is, het die Moleteles ’n aansien gebou vir sinvolle vennootskappe met kommersiële boere en verantwoordelike bestuur van hul nuwe bates. Volgehoue produksie deur strategiese vennootskappe is een van die hoekstene van die Moletele-grondplan.

Op hul grootste plaas, Richmond, ’n sitrus-en-mangoboerdery met sy eie pakhuis op 2 434 hektaar naby Hoedspruit, verhuur die Moleteles die grond en pakhuis aan die Richmond Kopano-boerdery, waarvan die Komati-groep die grootste aandeelhouer is. Die Moleteles het die opsie om aandele in die maatskappy op te neem.

Hulle is ook vennote met die Komati-groep in ’n lemmetjieprojek vir AB InBev. Hier is die Moleteles die meerderheidsaandeelhouer. Op van hul ander grond boer hulle in vennootskap of verhuur hulle grond aan strategiese vennote. Hulle het ook ’n huurooreenkoms met die voormalige eienaars van ’n ekotoerisme-onderneming.

“Die ekotoerisme-onderneming het gekies om nie die grondeis teen te staan nie, maar dadelik met ons onderhandel om die grond te huur sodat hulle kon aanhou om hul kampe te bedryf,” sê Mathole.

“Die Covid-19-pandemie het gemaak dat hulle nie sake kon doen nie en dus nie hul huur kon betaal nie. Omdat ons hulle as ons vennote in die bestuur en benutting van ons grond sien, het ons besluit hulle hoef nie huur te betaal solank as wat hulle nie ’n inkomste kan verdien nie. Hulle is dus veilig. Niemand kan hulle uitskop nie, want ons is saam in hierdie ding.”

Mense uit die Oaks-omgewing naby Hoedspruit kom as seisoenwerkers op die plaas Richmond werk wanneer daar vrugte geoes word. Dié wat wil, kan vir beter poste in aanmerking kom deur kursusse by te woon wat gratis deur die Komati-groep aangebied word.

SAAM IN DIE DING

Mathole en Thabane sê hulle het begrip vir wit boere se vrese dat hulle uiteindelik van hul plase afgeskop gaan word sodat Moletele-mense daar kan gaan bly. “Daar is egter nie ’n manier waarop ons werkgeleenthede vir ons mense gaan verwoes en ekonomies produktiewe grond gaan gebruik om families te vestig nie.”

Hoewel die Moletele-eienaarsvereniging nog kyk watter soort ooreenkoms beter werk – vennootskappe in boerderye of eenvoudige huurkontrakte – is ’n lang toekoms van samewerking met kommersiële boere vir hulle ’n uitgemaakte saak.

“Ons weet hoe lief die Afrikaner-mense vir hul grond is, dat hulle selfs daarvoor sal baklei. Ons is ook lief vir daardie grond, en ons meen ons kan saam vir ons almal ’n beter toekoms daarop bou,” sê Mathole.

Thabane sê kommersiële boere wat deur grondeise in die gesig gestaar word, kan baie bereik deur met die eisers te praat en te hoor wat hul sienings is. In die Moleteles se geval is die volgehoue bydrae van die Hoedspruit-omgewing tot die land se ekonomie ononderhandelbaar.

“Vroegoggend en laatmiddag sien jy duisende plaaswerkers by bushaltes in die omgewing. Dit is ons mense wat van plekke soos Acornhoek af kom om op plase te kom werk, in baie gevalle óns plase.

“As ons deur strategiese vennootskappe sulke werkgeleenthede in stand kan hou en selfs nóg kan skep, is ons mos op die wenpad,” sê Thabane.

Mathole sê kommersiële boere se vrese dat hulle aan die einde van 20-jaar-kontrakte van die grond afgeskop gaan word, is gebore uit bangmaakstories wat sommige boere onder mekaar vertel.

“Ja, ons wil opgelei word deur ons vennote en stuur ons kinders om aan universiteite te studeer in rigtings wat hulle sal help om ’n groter rol in die bestuur van ons grond te speel, maar saam met ons vennote.”

NAVRAE: Mnr. Albert Thabane, e-pos: aqthabane@gmail.com
Op ’n deel van die grond wat die Landman-groep saam met die Blydevallei-boerdery by die ­Moletele-gemeenskap huur, produseer Like Mountains, ’n inisiatief van dr. Anri Manderson, vlugtige olies, terwyl sy vroue uit die gemeenskap oplei om as buitekwekers plantmateriaal aan haar te voorsien.
Daar is ’n herplantingsprogram in die kontrak tussen die Komati-groep en die Moletele-gemeenskap vervat, maar die huurder en verhuurders vergader elke jaar om op die beste aanplantingstrategie te besluit.

DIE GROOTSTE AANDEEL

Danksy ’n groot belegging deur SA Brouerye (SAB) spog die Moleteles nou met ’n lemmetjieprojek waarin hulle die meerderheidsaandeelhouer in ’n vennootskap met die Komati-groep is. Saam met SAB het die nuwe maatskappy die eerste lemmetjiebome van ’n 60 ha-ontwikkeling by hul Richmond Kopano-plaas by Hoedspruit vroeg in Desember aangeplant.

Die aanplantings is in drie fases gedoen, met die tweede en derde fases in Januarie en Maart. Corona Extra, ’n bier wat uit die AB Inbev-stal kom en deur SAB vervaardig word, word met ’n skyfie lemmetjie bedien. Daarvoor het die maatskappy ’n betroubare lemmetjiebron nodig.

Mnr. Josh Hammann, hoof van SAB se landbouafdeling, sê hoewel lemmetjies nie deel van die brouery se kernproduk is nie, is dit ’n belangrike deel van die Corona-aanbieding en van die alkoholbedryf in die algemeen.

Daarom finansier SAB die vestiging van die boorde met die voorwaarde dat dié maatskappy eerste opsie het om die lemmetjies te koop. Dit staan die Moleteles en hul vennote vry om enige verdere lemmetjies op ander markte te verkoop.

Die lemmetjies word onder skadunet verbou en ’n sonkragstelsel vir die besproeiing van die boorde vorm deel van die R32 miljoen-belegging. Dit sal ook só bestuur word dat lemmetjies regdeur die jaar voorsien kan word.

Vroegoggend en laatmiddag drom duisende plaaswerkers by bushaltes saam. Dit is meestal Moleteles wat op plase gaan werk.

UIT ’N VENNOOT SE OOGPUNT

Mnr. Piet Smit, besturende direkteur van die Komati-groep, sê dié landboumaatskappy is ook in verskeie ander huurooreenkomste en strategiese vennootskappe met ander eienaarsgemeenskappe betrokke en vind die Moletele-eienaarsvereniging besonder goed georganiseerd.

Dit is veral die gemeenskap se korporatiewe bestuursbeginsels wat hom beïndruk, asook die manier waarop die bestuurskomitee alle transaksies deursigtig en met die gemeenskap se belange op die hart benader.

“Hulle het ook ’n goeie visie vir die grond wat aan hulle teruggegee is met ’n duidelike begrip vir waar die balans tussen gemeenskapsbelange en stabiliteit van die groter landbou-omgewing lê.”

Smit is ook beïndruk deur die Moletele-gemeenskap se geduldige benadering tot die ondernemings wat op hul grond bedryf word.

“Die Moleteles is bereid om die tyd en energie te belê om kommersiële landboupraktyke en bestuursbeginsels te leer pleks van om van die begin af te wil oorneem. Ek kan eintlik net goeie dinge van hulle sê en hoop dat die Komati-groep en die Moleteles vir nog baie jare gaan saamboer.”

Boer vooruit met ’n Landbou.com-intekening
Teken in op Landbou.com teen R149 per maand en kry toegang tot gehalte-joernalistiek, alle landboutydskrifte, Landbouweekliks-episodes, boeke en baie meer.
Teken in
Smalls

Besoek ons geklassifiseerde advertensies en plaas jou advertensie in Landbouweekblad én aanlyn. Vind ook vinnig en maklik die produk waarna jy soek!

Sien meer
Rand - Dollar
18.10
-0.8%
Rand - Pond
20.18
-1.2%
Rand - Euro
17.73
-0.7%
Rand - Aus dollar
11.57
+0.8%
Rand - Jen
0.12
-0.5%
Goud
1,662.33
+0.1%
Silwer
19.03
+1.1%
Palladium
2,167.00
-1.8%
Platinum
864.26
-0.4%
Brent-ruolie
88.49
-0.9%
Top-40
57,390
+0.8%
Alle aandele
63,726
+0.7%
Hulpbronne 10
60,230
+0.7%
Industriële 25
77,400
+0.8%
Finansiële 15
13,796
+0.7%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Besoek ons winkel!

Besoek die LBW-winkel en koop verskillende produkte soos boeke, tydskrifte, klere en meer.

Besoek LBW-winkel
Opsitkers
soek omgee maatjie, saam rondloop maatjie, sommer stilsit maatjie
Probeer hard om 'n ware omgee christen te wees wat graag deel. Kan skuins snaaks wees en geniet goeie gesels met iemand wat ook met woorde kan speel.
Dit is tyd om my horisone te verbreedt
Ek is vriendelik, aantreklik werk baie hard en verdien n bietjie geluk in die lewe. Ek is baie romanties maar deur die jare het dit by die afterdeur uitgegaan.
Vind jou perfekte maat nou!
Ek is 'n:
Op soek na:
Ouderdomsgroep: tot