
Gronderosie speel ’n verlammende rol wat volhoubare boerderypraktyke in Suid-Afrika kniehalter, is die mening van mnr. Rupert Koopman, ’n plantkundige van Kaapstad. Koopman het meer inligting oor dié ernstige erosie-probleem getwiet.
Volg Koopman op sy Twitter-naam by @RK_ct.
Hy verwys lesers na die webwerf van die departement botanie aan die Universiteit van Wes-Kaapland, waarin kommerwekkende feite oor gronderosie beskikbaar is.
Van dié feite is:
* Suid-Afrika verloor jaarliks bykans 3 ton grond per hektaar.
* Om die voedingstowwe wat jaarlikse see toe spoel in die grond te vervang, sal sowat R9 miljard kos.
* Vir elke ton mielies, koring, suiker of enige ander landbougewas wat in die RSA geproduseer word, beloop die verlies weens erosie sowat 20 ton grond.
Volgens die inligting op die webwerf het plantegroei ‘n belangrike rol om erosie te keer, maar selfs die owerheid speel ’n rol deur soms onvolhoubare praktyke te ondersteun.
Op die webwerf word die normale praktyke van die bekamping van gronderosie beskryf. Mense word ook aangemoedig om “donga-dokters” te word.