Die streek sal vinnig moet leer uit navorsing wat deur instellings soos die instituut vir grondwaterbestuur van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) gedoen is, sê mnr. Darryll Kilian, ’n konsultant by die ingenieursgroep SRK Consulting.
In die afgelope vyf jaar het die instituut 13 grondwaterprojekte van stapel gestuur waaruit 85 000 mense voordeel getrek het, sê mnr. James Sauramba, ’n direkteur van die instituut. Dit was hoofsaaklik in kwesbare gemeenskappe in die nege SAOG-lande.
Daar word wyd in die streek gesteun op grondwater as ’n primêre bron van water. Sowat 70% van die bevolking is daarvan afhanklik. Agteruitgang staar egter dié waterbron in die gesig weens grondgebruiksaktiwiteite en oorbenutting.