As uitvoerende hoof van Graan SA was mnr. Jannie de Villliers welbekend vir sy vermoë om sy personeel en die boere wat hulle bedien, se gemoedere op te beur in moeilike tye, soos die politieke onstuimighede gedurende die onteiening-sonder-vergoeding-debat, en die droogte wat in die laaste jare van sy ampstermyn saaiboere geteister het.
Vir hom was dit nog altyd ’n voorrangsaak om aanhoudend te timmer aan die veerkragtigheid van die bedryf om só te verseker saaiboere kan aanhou doen wat hulle die beste doen – om Suid-Afrika van stapelvoedsel te voorsien.
Met sy aftrede uit die georganiseerde landbou sit De Villiers daardie konstruktiewe tradisie voort as Landbouweekblad-rubriekskrywer, maar namate die verval van die platteland vererger en noodsaaklike dienste soos Eskom se kragvoorsiening versleg, raak dit ál moeliker om die silwer randjie te vind.
In ’n rubriek vergelyk hy dit wat gebeur in Suid-Afrika met die Tour de France-fietswedren, met veral die strategieë tydens die bergfases wat parallelle het met wat in Suid-Afrika gebeur. “Daar is baie lewenslesse te leer in hoe spanwerk op só ’n moeilike dag werk…