
Die gediversifiseerde landbou-en-bosboumaatskappy TWK Investments het sy beste tussentydse resultate ooit vir die halfjaar tot 28 Februarie vanjaar behaal.
Mnr. André Myburgh, uitvoerende hoof, sê in die maatskappy se houtafdeling is die goeie prestasie tot groot mate ’n herstel ná covid-19, maar verskeie ander afdelings het baie goed presteer.
Die maatskappy, wat op die Kaapstadse Sekuriteitebeurs genoteer is, se inkomste het met 30,5% tot R4,88 miljard gestyg en sy wins ná belasting met 175% tot R246,65 miljoen.
Ten opsigte van landboubedrywighede het onder meer die goeie somergraanseisoen, groter verkope van landboumasjinerie, meer produksiekrediet aan boere en stygings in kunsmispryse tot die goeie halfjaarresultate bygedra.
Die groei in die volume graan wat maatskappy opgeberg het, was danksy goeie opbrengste. Sodoende het die winsgewendheid van die graansegment gestyg.
Die finansiëledienste-segment se produksiekredietboek het met 48,8% gegroei, hoofsaaklik danksy groter graanaanplantings, boere se hoër koste van produksiemiddele en ’n groter markaandeel.
Kunsmis ’n kopseer
TWK Investments se afdeling Constantia Fertiliser verskaf verskeie kunsmismengsels aan klante.
Myburgh sê kunsmispryse “is besig om heeltemal weg te hardloop”. Pryse styg sommer oornag met $20/t (sowat R290/t).
Met Rusland wat weens sy inval van Oekraïne nie kunsmis kan uitvoer nie, maar dit steeds produseer, is dit ’n ope vraag wat met pryse gaan gebeur wanneer dié kunsmis op die mark kom. Die situasie sal egter nie oornag verander nie, as ’n politieke oplossing vir die oorlog gevind word.
“Kunsmisgrondstowwe is steeds geredelik beskikbaar op die internasionale markte, met die uitsondering van fosfaat- en kaliumprodukte. Die onlangse vloede in KwaZulu-Natal gaan tot gevolg hê dat produkte plaaslik baie skaars gaan wees aangesien verskeie kunsmismaatskappye se produkte daardeur beskadig is.”
Myburgh sê die tekort aan en hoë pryse van kunsmis gaan die nuwe somerseisoen vir boere moeilik maak. In ’n steekproef van Graan SA het 70% van die respondente gesê hulle het nog geen kunsmis vir die nuwe seisoen gekoop nie.
Boere sal waarskynlik net die heel nodigste toedieningsvlakke handhaaf, wat die opbrengs per hektaar nadelig kan beïnvloed.
Benewens probleme met die beskikbaarheid van ingevoerde kunsmisprodukte word probleme ook plaaslik ondervind met die verkryging van stikstofprodukte vanaf Sasol, wat gereeld probleme ondervind om produkte te kan lewer.
Myburgh sê hulle vind dat veral KwaZulu-Natalse melkboere toenemend hoendermisprodukte vir die bemesting van weiding koop, omdat hulle nie meer duur stikstofprodukte kan bekostig nie.
Hout dalk na Europa uitgevoer
Die inkomste van die maatskappy se houtafdeling het met 80,73% gestyg van R636,81 miljoen tot R1,15 miljard. Dit is grootliks danksy groter uitvoer van houtspaanders en groter verkope van ander houtprodukte.
Myburgh sê die maatskappy kry tans baie navrae uit Europa, weens dié streek se sanksies teen Rusland vanwaar hy tot dusver houtprodukte ingevoer het.
“Die pulppryse in Europa is beter as in China (waarheen TWK tans uitvoer). Ons is seker ons gaan in die loop van die jaar van ons volume uitvoer na Europa begin skuif en hopelik is dit ’n permanente skuif. Ons voer reeds na Spanje uit.”
Skeepsvervoer bly ’n probleem en pryse is steeds dubbel wat dit was voor die covid-19-pandemie. “Dit sal seker mettertyd regkom. Ons plaaslike hawens se ondoeltreffendhede skep egter ook baie struikelbokke. Ons is amper daagliks in gesprek met Transnet om te kyk wat gedoen kan word, omdat dit uiteindelik ons volhoubaarheid raak.”
Verbruikers se beursies
Myburgh sê ondanks die voordeel wat die maatskappy uit hoë kommoditeitspryse trek, is hy uiters bekommerd oor hoe dié hoë pryse arm mense raak. “Voedselpryse, veral van stapelvoedsel, gaan aansienlik styg. Die produsent moet die hoë prys kry waarteen mielies tans verhandel om sy insetkoste te kan verhaal, maar arm verbruikers kan nie die hoër prys van mieliemeel bekostig nie.”