Na raming het verkeer in sommige lande met tot 50% afgeneem, met ’n gepaardgaande afname van tot 48% in botsings met wild. In sommige gevalle het dit tot gedragsverandering by diere gelei, wat weer ’n ekologiese impak sou hê.
Volgens me. Erin Adams en dr. Lizanne Roxburgh van die EWT se eenheid vir bewaring, beplanning en wetenskap was een van die voordele van die covid-19-inperking die drastiese afskaal van die mensdom se bewegings en bedrywighede. Dit is iets wat hulle die “anthropouse” noem.
Botsings tussen voertuie en wilde diere word gewoonlik beskou as die tweede grootste oorsaak van dierevrektes aan die hand van mense, skryf hulle in ’n onlangse EWT-nuusbrief. EWT-navorsers het voorheen ondersoek ingestel hoekom so baie diere op paaie doodgery word.