Ek volg die Tour de France-fietswedren elke jaar entoesiasties. Dit is veral die strategieë tydens die bergfases wat my interesseer. Daar is baie lewenslesse te leer in hoe spanwerk op só ’n moeilike dag werk. Vandag dink ek egter hoe ons land sukkel met ’n spanlid wat nie regtig behoorlik bergop kan ry nie.
Die kameras fokus nie juis op hierdie ryers wat planke toe gery is wanneer die steiltes hul voordoen nie. Dan is die klem op die relatief vars manne wat weet hoe om berg met ’n fiets te klim.
Byna elke jaar is daar ’n dag wanneer een van die gunstelinge ’n afdag beleef en halfpad bergop teen die spreekwoordelike muur vasry. Dan gebruik die kommentators talle byvoeglike naamwoorde om sy poging te beskryf: Hy het ge-“pop”, ge-“crack”, hy ry “nou agtertoe” of “die ligte verdof”.