Smous was nog altyd in sy bloed, sê dr. Johan van Deventer, wat onlangs uitgetree het ná ’n suksesvolle loopbaan van bykans 28 jaar by Freshmark, die varsprodukte-verkrygingsafdeling van die Shoprite-groep.
Vir 20 jaar was hy aan stuur van sake as besturende direkteur en het die maatskappy gelei tot ’n winsgewende onderneming met ’n omset van miljarde rande en verreweg die grootste in sy soort in Afrika.
“My oupa en my pa het deeltyds groente verbou op Coligny in die ou Wes-Transvaal. My pa het ná werk geboer en dan moes ek help natlei en skoffel,” onthou hy. Op Vrydagmiddae moes hy sorg dat hy betyds by die huis kom sodat hulle hul aartappels, boontjies, tamaties, mielies en pampoen kon was en verpak op ’n drieton-vragmotortjie om Saterdae te gaan smous.