
“Windgatnommers.” Dís hoe mnr. George Steyn, voorsitter van Kaap Agri, dié landbou-, brandstof- en kleinhandelsonderneming se finansiële prestasie die afgelope tien jaar beskryf.
Die maatskappy se herhalende wesensverdienste het sedert 2011 teen ’n saamgestelde groeikoers van 15,1% per jaar geklim, het Steyn tydens Kaap Agri se jaarvergadering in die Paarl gesê.
Die groei was in die tienjaartydperk wat mnr. Sean Walsh die leisels as uitvoerende hoof by Kaap Agri gehou het. Die era is gekenmerk aan sterk bruto winsprestasies, sowel as doeltreffende kostebestuur. Verlede jaar het die groep meer as 21,7 miljoen transaksies verwerk en vir die eerste keer ooit meer as 300 miljoen liter brandstof in motors gegooi.
“Ons het 6,5 miljoen kg hondekos, 550 757 pasteie en 722 000 liter Coca-Cola verkoop. Altesaam 990 000 palette is aan produsente gelewer waarmee R13 miljard tot R15 miljard se vrugte na Europa, Brittanje en Rusland uitgevoer is.”
Walsh verwag dat die groep vanjaar sy mediumtermynteiken om teen 15% per jaar te groei, sal haal, veral danksy huidige groei, maar ook die voorgenome transaksie om die PEG-groep, met goed geposisioneerde vulstasies en kitsdiensrestaurante, oor te neem.
“Daar is tans baie min dele van die besigheid wat nie goed vaar nie. Ons kan sê ons beleef ’n na aan volmaakte seisoen ná die covid-19-storm.”
Kaap Agri se statutêre inkomste het in die eerste drie maande van die huidige boekjaar met 24% geklim teenoor die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Dis aangedryf deur ’n toename van 7,3% in transaksies en inflasie van 20%. Inflasie kan wel problematies wees vir die groep.
“Ons verwag matige groei in die kleinhandelsektor. Ons kitsdiensrestaurante herstel stadig ná die covid-19-inperkings en drankhandel tel ook weer kop op, maar brandstofpryse en inflasiedruk sal die kleinhandelbesteding demp. Ek hoop die inflasionêre siklus eindig gou, want ’n mens maak nie geld uit mense deur meer vir jou produkte te vra nie. Hulle het net soveel geld om te bestee.”
Hy sê die huidige hoë kunsmis- en brandstofprys sal boere se besteebare inkomste raak.
Walsh is optimisties oor die res van die jaar se landboukundige verwagtinge.
“Oor die algemeen lyk dinge gunstig in die vrugtebedryf, hoewel logistiek ’n nagmerrie is. Ons is almal betrokke by samesprekings met Transnet om oplossings te probeer vind.”
Hy glo wyndruifboere se kontantvloei sal nog ’n rukkie onder druk wees. Daar is tans ’n rekord-graanoes – die grootste in 16 jaar – in opberging.