Kaap Agri hersien tans sy beleid in ’n poging om maatskappyleiers te druk om ’n groter belang in die onderneming te kry.
Mnr. Chris Otto, voorsitter van Kaap Agri Bpk. se vergoedingskomitee, het gesê hy beveel altyd mededirekteure aan om aandele te koop, want “ek verkies ’n maatskappy waar die direkteure ’n betekenisvolle belang in die maatskappy het. Ek wil amper sê, as hulle nie aandele het nie, moet hulle vir die opposisie gaan werk.”
Dit was in antwoord op ’n opmerking deur die aandeelhouersaktivis mnr. Chris Logan dat dit ’n swakplek in Kaap Agri se mondering is dat die uitvoerende beamptes se aandeelhouding baie laag is. Dit beloop sowat 0,7%, volgens die geïntegreerde maatskappyverslag.