Op laerskool, daar op Tarkastad (“iewers tussen Queenstown en Cradock in die Oos-Kaap”), het mnr. Sean Walsh nie eens wiskunde gehad nie.
Vandag, waar hy die afgelope tien jaar aan die hoof staan van Kaap Agri Beperk, háát mense dit as die man-sonder-laerskool-wiskunde ’n tabel só bekyk, sy wysvinger oor die sessyfer-getalle laat gly terwyl hy dit in sy kop optel, en dadelik kan sê as ’n formule verkeerd is.
Hy lag lank en hartlik, dié man wat op sy dag ook in die Drakensbergse seunskoor gesing het. Die spiere in sy syferbrein het hy geoefen daar in sy pa se algemene handelaarsaak op Tarkastad.