
Kaap Agri het pas sy vastrapplek in die kleinhandel-, brandstof- en geriefsektor verstewig deur die PEG Groep oor te neem.
Kaap Agri het aangekondig sy filiaal The Fuel Company gaan PEG Retail Holdings (PEG Groep) se sakebedrywighede in sy geheel oorneem. Dit sal swart aandeelhouding in The Fuel Company op meer as 50% te staan bring, wat dit een van die leiers op die gebied van transformasie in die brandstofbedryf sal maak.
Die transaksie sluit nie eiendomme in nie. PEG is ’n onafhanklike brandstofkleinhandelaar wat hoofsaaklik langs nasionale snelweë sake doen. Die groep besit ’n aantal vulstasies, asook kitsdiensrestaurante en geriefswinkels.
“Die PEG Groep is ’n hoogs winsgewende besigheid en die transaksie sal Kaap Agri se verdienste verhoog,” sê mnr. Sean Walsh, uitvoerende hoof van Kaap Agri, in ’n verklaring.
Dit sal ook die Kaap Agri Groep se opbrengs op geïnvesteerde kapitaal verbeter.
“Dis werklik ’n unieke bemagtings-saketransaksie wat nuwe geleenthede vir volgehoue groei ontsluit,” meen Walsh.
Mnr. Jayson Abrams, The Fuel Company se besturende direkteur, sê die filiaal sal voordeel trek uit PEG Groep se sterk bestuurspan en diensstasie-operateurs.
Volgens mnr. Xolisa Bangai, besturende direkteur van PEG Groep, wen albei maatskappye met die transaksie. Hy sal aandeelhouding in The Fuel Company kry as deel van die transaksie.
Die transaksie is nog onderhewig aan standaardvoorwaardes, insluitend die mededingingsowerhede se goedkeuring.