
Die voorgestelde verbod op drankadvertensies kan die staat ook benadeel. Econometrix, ’n onafhanklike ekonomiese navorsingsinstelling, het vroeër bereken die verbod kan die staat R1,8 miljoen aan belastingsinkomste kos.
Mnr. Robert Jeffrey, besturende direkteur en senior ekonoom, het luidens ’n nuusbrief van Vinpro onlangs gesê: “Tot 12 000 mense kan hul werk verloor as die wetsontwerp goedgekeur word en die land se bruto binnelandse produk (BBP) kan met R7,4 miljard per jaar daal.”
Die wetsontwerp op Beheer van die Bemarking van Alkoholiese Drank is glo gereed om aan die Kabinet voorgelê te word, waarna dit vir openbare kommentaar beskikbaar gestel moet word.
‘Skrale troos’
Navorsing bewys dat geen verband bestaan tussen die advertering van alkoholiese drank en die gebruik daarvan in Suid-Afrika nie. Verder het soortgelyke pogings deur ander lande in die verlede gewys dat dit geen impak gehad het op die gebruik van alkohol nie.
“Dit sal 'n skrale troos wees vir diegene wat hul werk verloor het sonder die vooruitsigte van ’n ander werk as die staat oor ’n paar jaar erken dat die wetgewing nie die gewenste uitwerking gehad het nie,” sê mnr. Kurt Moore, hoof uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Drank Handelsmerkeienaars-vereniging (Salba).
Volgens Moore sal kleiner wynkelders wat tot die mark toetree die hardste deur die verbod getref word. Hy sê die verbod sal markaandeel vries: “Terwyl die groter handelsmerke altyd in die gedagtes van verbruikers sal bly, sal onbekende handelsmerke gemarginaliseerd bly. Entrepreneurs sal nie in staat wees om ’n vastrapplek in die mark te kry nie.”