In baie boedels verteenwoordig die waarde van lewensversekering ’n baie groot deel van die kapitaal wat in die finansiële behoeftes van nagelate familie moet voorsien. Die besluit oor wie as begunstigde van hierdie geld aangestel behoort te word, is iets wat nie in afsondering geneem behoort te word nie.
Faktore wat in aanmerking geneem behoort te word, is eerstens die behoefte aan likiditeit in die bestorwe boedel. Kontant of naby-kontantoplossings is nodig om te verseker dat die eksekuteur, in die afhandeling van sy pligte rondom die administrasie van die bestorwe boedel, genoeg kontant het om uitgawes te delg sonder om ander bates te verkoop of te gelde te maak.
Uitgawes behels onder meer uitstaande skuld en rekeninge, kontantbemakings, administrasiekoste en finale inkomstebelasting, wat kapitaalwinsbelasting insluit.