Die afgelope twee en ’n bietjie jaar het hy ‘die skroewe ingedraai en die spykers vasgekap’, soos een van sy kollegas sê. Maar nou is die tyd ryp om weer klem te lê op groei, glo Stumpf.
Dit is ’n week ná sy besoek aan Duitsland en Parys, Frankryk, waar mnr. Johan Stumpf met die wêreld se sjiekste modehuise vergader het oor verantwoordelik geproduseerde wol uit Suid-Afrika.
Hy sit rustig op sy selfoon en gesels, sy een been oor die ander gekruis. Aan sy voete pryk volstruisleerskoene – waarskynlik ’n oorblyfsel uit sy dae aan die stuur van die volstruisbedryf. Stumpf is tans groepsbesturende direkteur van BKB, ’n rol waarvoor hy uitgeknip is danksy die tydperke toe hy die Sondagsriviersitrusmaatskappy en Klein-Karoo Groep gelei het.