
Die druk van ’n propvol landboukalender op die vooraand van die oestyd vir makadamianeute, sitrus en avokado’s het Landbouweekblad se boeredag vir herlewingslandboupraktyke in subtropiese gewasproduksie wat vir 3 Maart in Mbombela geskeduleer was, ingehaal.
“Na konsultasie met bedryfsleiers uit die verskillende sektore het ons besluit om dit uit te stel tot ’n datum waar daar minder kompeterende aktiwiteite op dieselfde week aan die gang is,” sê Clint Ockhuis, Landbouweekblad se kommersiële bestuurder.
Landbouweekblad se hoofredakteur, Chris Burgess, sê hoewel daar baie belangstelling in die Mbombela-boeredag was, kon baie boere dit nie bywoon nie omdat hulle reeds tot ander geleenthede verbind was.
“Ons doen baie moeite om die beste moontlike sprekers vir so ’n geleentheid byeen te bring en dit is vir Landbouweekblad baie belangrik dat die kennis wat by so ’n boeredag gedeel word, so wyd as moontlik tref. As daar ’n beter datum is waar ons vir meer boere blootstelling aan mekaar se kennis en evaring kan gee, moet ons buigsaam wees en dit moontlik maak.”
Landbouweekblad onderhandel tans met verskeie partye om ’n alternatiewe datum vas te stel. Die moontlikheid om twee boeredae direk na mekaar aan te bied in Limpopo en Mpumalanga wordondersoek. “Dit sal ons in staat stel om spesialiste te nooi om by albei dae praktiese demonstrasies aan te bied. Ons kan byvoorbeeld ’n kundige nooi om vir boere te demonstreer hoe verskillende bome optimaal gesnoei kan word.”
Hou Landbou.com dop vir die nuwe datums en program. Persone wat reeds vir 3 Maart se boeredag geregistreer en betaal het, sal gekontak word en die geleentheid kry om hul bespreking na die nuwe datum te verskuif. Landbouweekblad vra verskoning vir enige ongerief wat die verskuiwing van die datums veroorsaak.