Die korttermyngevolge van beurtkrag is welbekend: Verlaagde nywerheidsuitsette, persoonlike ongerief en munisipale watertekorte is van die opvallendste. Rekordhoë voedselpryse en selfs voedseltekorte is moontlike gevolge wat verder in die toekoms lê.
Tydens die 1980’s toe elektrisiteit volop was en die destydse Evkom in infrastruktuur belê het, is die landbou grootliks geëlektrifiseer.
Nuwe moontlikhede, soos die grootskaalse grootmaak van braaihoenders, duisende hektaar gewasse onder spilpuntbesproeiing, die uitbreiding van vrugteboorde en klimaatbeheerde kweekhuisproduksie kenmerk die Suid-Afrikaanse landbou sedertdien. Sonder elektrisiteit is besproeiing tot vloedbesproeiing beperk.