Dieselfde redes waarom die hooggeregshof in Makhanda beslis het dat seismiese opnames vir aardgas aan die Oos-Kaapse kus opgeskort moet word, is geldig in die nuwe stryd teen opnames aan die Wes- en Noord-Kaapse kus.
Die doel van die opnames is om te bepaal of daar ontginbare voorrade aardgas onder die seebodem versteek is. Die VF Plus erken die omgewingsvoordele van die verbranding van aardgas bo petroleumprodukte, maar staan by sy standpunt dat dit nie dwingend noodsaaklik is om nuwe bronne van dié hulpbron te vind nie.
Terwyl voldoende bronne vir die volgende dekades tans bekend is, behoort Suid-Afrika eerder die roete van groen waterstof te volg om in sy toekomstige energiebehoeftes te voorsien. Groen waterstof is wanneer waterstofgas met die gebruik van hernubare hulpbronne geproduseer word.