Gate dieper as Coke-bottels. Dit is nou die pad tussen Clocolan en Marquard. Ek verstaan daar is stukke van die pad tussen Vrede en die N3 wat onbegaanbaar is. Nie gehoor hoe die pad tussen Vrede en Standerton is nie. Hier by ons op Senekal is die R70 na Ventersburg in Desember 2021 klaar geteer.
In Januarie 2022 het die pad reeds op verskeie plekke opgebreek en is die gate net toegestop. Nou, ná die reën, breek die gate wat “herstel” is, weer op. Verlede Januarie het ek dit by die VF Plus en DA aangemeld, maar nie eens ’n antwoord van hulle gekry nie.
Ek het in ’n stadium al voorgestel dat ’n nommer geskep word waar ’n mens hierdie tipe probleme wat jy opmerk, kan aanmeld. Dit is duidelik dat die padbouers betaal is vir ’n diens wat hulle nie gelewer het nie.