’n Ekstensiewe veeboer boer hoofsaaklik met diere, plante, grond en water. In die algemeen is die Suid-Afrikaanse boer se diere van hoogstaande gehalte. Ons boere is van die beste telers ter wêreld. Minder het ’n passie vir hul veld en die plante op hul grond. Baie onttrek meer water aan die grond as wat hulle terugsit.
Die grootste probleem lê by die bestuur van die grond. Dit is seker die rede dat die drakrag van die grond daal, al skyn dit asof die reënval styg en die bedekking verbeter. Die gesondheid van die grond is baie belangrik. As dit by grond kom, gaan dit eerstens oor die hoeveelheid.
Dit verg eeue om nuwe grond te vorm. Rotslae moet verweer om grond te vorm. Wind- en watererosie verminder die grond op die plaas. Kyk maar net na die duine wat uitwaai of gaan kyk na die Namib se sand.