Saai verwelkom die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se beslissing dat plantgebaseerde alternatiewe vir diere-proteïen nie as vleis, suiwel of eier bemark mag word nie.
Die publiek word daardeur mislei en ten spyte van die luidkeelse besware van anti-vee-aktiviste en maatskappye wat op ’n onregmatige wyse wins maak deur voor te gee dat hulle diereprodukte doeltreffend vervang, is dit van oorlewingsbelang vir veeboere dat die geloofwaardigheid van hul produkte op die mark beskerm word.
Anti-vee-aktiviste mislei die verbruiker nie net met etikette op produkte wat voorgee om vleis, suiwel of eier te wees nie, maar ook met pseudo-weten- skap wat berus op valse aansprake dat diereproteïen nadelig is vir gesondheid, die klimaat, biodiversiteit en dierewelstand.