Dit verg geen kennis om te weet wanneer stukke koperkabel, ysterpale, sparre, munisipale mangatdeksels, krane of stukke ysterstawe gesteel of op ’n onwettige wyse bekom is nie.
Red Suid-Afrika en verbied alle handel in skrootmetaal, buiten fabrieksafval en voertuig-wrakke, omdat dit die bron van alle kwaad is. Verklaar koper, nes goud, tot ’n edelmetaal en maak die besit van onverwerkte koper ’n misdaad met tronkstraf.
Dan sal die treine weer loop. Iets wat ek van die polisie, waar ek vir meer as 40 jaar gedien het, onthou, is dat ’n konstabel net in uitsonderlike gevalle gestasioneer is op ’n plek waar hy grootgeword of skoolgegaan het. Dit het verbroedering met misdadigers en ’n “sien niks”-houding gekeer.