Geagte mnr. Tiger Brands Ek ken nie jou regte naam en van nie, en ek wil ook nie die brief begin met “liewe” nie, want op hierdie oomblik dink ek nie die woordjie “liewe” hoort hier nie. Hierdie brief gaan oor Ashton, ons buurdorpie.
Op skool het ons altyd gepraat van Blikkiesdorp, want Ashton is nie ’n sommerso-dorpie nie. Maar jy weet, want jou fabriek is daar wat elke jaar duisende en duisende blikkies inmaakvrugte maak. Ons praat sommer van canned fruit, al is dit Engels.
Om die waarheid te sê, Ashton Canning maak al sedert 1959 blikkiesvrugte. Dit is ’n baie lang tyd, mnr. Tiger Brands. Ons het in die plaasskool al begin leer van hierdie wonderlike fabriek, amper op ons agterstoep.