
Die dieregesondheidsmaatskappy Zoetis het besluit om die boek, Vra die Veearts: Wat kleinveeboere moet weet, vir almal in dié maatskappy aan te skaf. Zoetis meen dat sy verteenwoordigers dit in die veld as 'n hulpmiddel kan benut.
Die boek is ’n spogproduk uit die penne van die bekende veeartse, dr. Faffa Malan en prof. Gareth Bath, en ’n opvolger van die topverkoper, Vra die Veearts, Wat beesboere moet weet, wat ook deur Landbouweekblad uitgegee is.
(Dr. Faffa Malan het 'n eksemplaar van die boek oorhandig aan mnr. David Human bemarkingsbestuurder: groot diere, van Zoetis en mnr. Jacques de Jager, nasionale verkoopbestuurder van Zoetis. Sien foto hierbo.)
Die boek vir kleinveeboere is saamgestel uit antwoorde op vrae van boere aan veeartse rakende die mees algemene skaap- en boksiektes, soos bloutong, aborsies, hartwater, geilsiekte en longontsteking, en die diagnose en behandeling daarvan. Vergiftiging weens plante, ander toestande, soos gewrigs-, oor- en oogprobleme, en voedingsprobleme kry ook aandag. Daar is ook afdelings oor entstowwe en die korrekte gebruik daarvan, die korrekte inspuitplekke en die verskuiwing van skape.
Dit is nie ’n handboek wat alle moontlike siektetoestande beskryf nie, maar beantwoord vrae van skaap- en bokboere oor probleme wat hulle daagliks op die plaas ervaar.
Die boek behoort vir elke kleinveeboer in die land van waarde te wees. Dit is 'n A5-grootte gids van 204 bladsye. Prys R305,00 (BTW, verpaking en posgeld ingesluit). Foto van boek hieronder.
Bestellings kan per e-pos aangevra word by LBW@media24.com.