
Maar dit sal volhoubaar en gedissiplineerd uitgevoer word, sê mnr. Stephan Serfontein, finansiële direkteur.
Daarby sien die groep, wat byna die helfte van sy inkomste uit plaaslike en internasionale landboubedrywighede verdien, dat gebeure soos die oorlog in Oekraïne sy rol verstewig om te verseker dat Suider-Afrika voldoende voedsel kan produseer.
Omnia se resultate vir die boekjaar tot einde Maart toon dat hy kontant van R2,4 miljard beskikbaar het. Sy na-belaste wins uit voortgesette bedrywighede het met 80% tot R1,1 miljard gestyg en sy wesensverdienste per aandeel is 86% hoër as ’n jaar gelede op 672c.
“Ons is in ’n baie sterk finansiële en kontantposisie. Ons bly toegespits op die benutting van organiese en anorganiese groei, maar ons wil seker maak dit sal waarde toevoeg tot die kernbesigheid van Omnia.”
Die goeie prestasie het daartoe gelei dat aandeelhouers in dié 70 jaar oue maatskappy aan die einde van die boekjaar R1,4 miljard sal ontvang danksy ’n dividend van 275c per gewone aandeel en 525c per spesiale aandeel.
“Dit is nie ons voorneme om op lang termyn op die kontant te sit nie, ons gaan dit aanwend vir groeigeleenthede. Indien daardie geleenthede nie oor ons pad kom nie, gaan ons addisionele kapitaal aan ons aandeelhouers terugbesorg,” sê Serfontein.
Die groep het bedrywighede in meer as 25 lande. Dis veral sy oorsese biostimulante-mark en die verskaffing van mynbou-oplossings wat geleenthede bied in lande soos Australië, Kanada en Indonesië.
Goeie landboujaar laat verkope styg
Omnia Holdings se landbou-afdeling het die grootste netto toename in omset van 44% tot R11,2 miljard getoon. Sy bedryfswins van R1,2 miljard het meer as verdubbel. Dié wins is veral aan hoër verkoopsvolumes te danke, sê Serfontein. “Spesifiek in Suid-Afrika was daar ’n groot aanvraag danksy baie goeie landboutoestande, terwyl die landbou-kommoditeitsiklus in die afgelope jaar hoër beweeg het, wat ons wins ook opgestoot het.”
Daar is ook baie goeie verkope behaal in buurlande, spesifiek Zambië. Mosambiek het weer ’n groter aanvraag na spesialiteitskunsmis vir hoëwaarde-gewasse gehad. “Dié aanvraag na biostimulante is tans ’n groot, groeiende mark wêreldwyd.”
Logistiek bly ’n groot probleem met skeepsvrag wat steeds deur die uitwerking van die pandemie ontwrig word. Die logistieke vertragings na groot internasionale kliënte het die groei van Omnia se biostimulant-bedrywighede in Australië belemmer.
Serfontein sê die oorlog tussen Rusland en Oekraïne het hulpbronpryse opgestoot en ’n groot internasionale aanvraag vir landbouprodukte geskep. “Ek meen regerings in die algemeen is bekommerd oor voedselsekerheid. Ons geïntegreerde bedryfsmodel, spesifiek ons voorsieningsketting en vervaardigingsaanlegte, plaas Omnia in ’n sterk posisie om hieruit voordeel te trek.”
Hy beklemtoon dat Omnia Holdings ’n rol het om te speel, spesifiek in Suider-Afrika om boere te ondersteun. “Ek dink daar gaan meer druk kom op insetkoste, veral as ons kyk na wat met Eskom gebeur, asook stygende petrol- en dieselpryse. Dit het ’n impak aan die landboukant en Omnia moet verseker dat ons boere bystaan om winsgewend te wees, maar ook dat die streek nie voedseltekorte ontwikkel nie.”
Mynbou en chemikalië geposisioneer vir groei
Netto inkomste uit die groep se mynbousegment het met 29% tot R6,7 miljard gestyg, veral danksy hoër Suid-Afrikaanse verkope en stygende ammoniakpryse. Die maatskappy se verskerpte klem op doeltreffendheid het sy bedryfswins met 79% tot R514 miljoen opgestoot.
In Kanada is suksesvolle proewe in die mark vir ondergrondse plofstof en tegnologie uitgevoer, wat weer nuwe sake-geleenthede skep.
Netto inkomste uit die chemiese afdeling se voortgesette bedrywighede het met 2% tot R3 miljard gestyg, terwyl die bedryfswins met 41% tot R142 miljoen verbeter het. Die groep het sy chemiese afdeling aan die begin van die boekjaar herposisioneer om op sleutelsektore te konsentreer en dié skuif het vrugte afgewerp, ondanks covid-19-verwante probleme met die voorsieningsketting, tekorte in chemikalië en hoër energiekoste.