Dit het wêreldwyd tot groeiende voedselinflasie gelei. Maar wat beteken die verbod vir plaaslike boere en verbruikers?
In ’n wêreldkonteks was palmolie tot dusver een van die goedkoopste en veelsydigste plantaardige olies. Trouens, prof. Ferdi Meyer en dr. Tracy Davids van die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) het reeds verlede jaar in ’n verslag gesê palmolie het tóé teen ’n prys verhandel wat sowat 25% laer as dié van sonneblom- en sojaboonolie was.
Sedert die eerste helfte van 2021 het die wêreldpryse van plantaardige olies egter net hoër en hoër begin styg. Afgesien van ontwrigte wêreldhandel en skeepsvervoer weens covid-19-inperkings is voedselproduksie belemmer deur droogtetoestande in Suid-Amerika en die oorlog in Oekraïne.