Kyk ’n mens na die landbou en veral na landbougrond in Suid-Afrika, kyk jy vierkant vas in die land se verlede. Dit maak nie saak waar jou kop oor die saak staan nie, feite is feite. Dis swart en wit. Dis politiek. Daar is voorheen-bevoordeeldes en voorheen-benadeeldes.
Iewers in die proses moet ’n ekwilibrium gevind word, maar dit word baie duidelik dat ons op die oomblik agteruit boer. Kom ons kyk eerstens na die dreigemente, gevare en oplossings wat die landbou vandag betref.
Teen die tyd dat die ondier van apartheid in die vroeë 1990’s amptelik tot ’n val gekom het, was die oorgrote meerderheid plase in wit besit. Feit. Dit was bykans voor die voet spogplase. Feit. Daar was nou baie voornemende swart boere wat in die praktyk wou deel. Feit.