
Vir werkgewers is dit ? baie groot probleem indien werknemers onder die invloed van alkohol of bedwelmende middels by die werkplek aanmeld.
Behalwe die feit dat ? dronk of bedwelmde werknemer nie sy of haar take behoorlik kan verrig nie, mag die feit dat die werknemer onder die invloed van alkohol is vir ander werknemers, kliënte en/of klante van die werkgewer, die werkgewer se eiendom of selfs die werkgewer se goeie reputasie gevare inhou.
In hierdie verband plaas die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid 85 van 1993 (soos gewysig) ("die Wet") ? positiewe verpligting op alle werkgewers om ? werkomgewing wat veilig en sonder risiko vir die gesondheid van sy werknemers is, te onderhou. Dieselfde verpligting geld teenoor besoekers aan die werkgewer se perseel.
Gedurende 2003 is Regulasie 2A in die Algemene Veiligheidsregulasies by dié Wet ingevoeg. Hierdie regulasie bepaal dat ? werkgewer geen persoon wat onder die invloed van sterk drank of dwelmmiddels blyk te wees, mag toelaat om ’n werkplek te betree nie.
Wat kan werkgewer doen?
Die vraag onstaan dus wat ? werkgewer te doen staan indien die werkgewer vermoed dat ? werknemer wél onder die invloed van alkohol tydens werksure is?
Artikel 7 van die Wet op Gelyke Indiensneming 55 van 1998 (soos gewysig) verbied enige mediese toetse op ? werknemer (insluitend enige toets, vraag of ondersoek), tensy sodanige mediese toets regverdigbaar is in die lig van onder andere diensvoorwaardes, sosiale beleid of die inherente vereistes van die werk.
? Werknemer se reg op privaatheid en liggaamlike integriteit moet dus in só ? geval opgeweeg word teen die werkgewer se positiewe verpligting om ? veilige werkomgewing vir ander werknemers, kliënte en klante te verseker.
In hierdie opsig sal die aard van die werkgewer se bedrywighede en die funksies wat ? betrokke werknemer binne die werkplek verrig, deurslaggewend wees om te bepaal hoe ? goeie werkgewer moet ? werknemer wat onder die invloed verkeer moet handel.
Toets die werknemer
Indien die werknemer byvoorbeeld in beheer van masjinerie is of selfs net in die omgewing van masjinerie wat moontlike gevare inhou sy of haar take verrig, sal die werkgewer goeie gronde hê om die werkgewer te toets indien die werkgewer vermoed dat die werknemer onder die invloed van alkohol tydens werksure verkeer, insluitend die uitvoer van ? asemklikkertoets.
Wat staan ? werkgewer te doen indien daar ná die uitvoer van ? toets bevind word dat ? werknemer wél onder die invloed van alkohol verkeer?
Die uitdaging waarmee werkgewers te kampe staan wanneer ? werknemer onder die invloed van alkohol verkeer, is of dit as wangedrag of ongeskiktheid vir diens hanteer moet word. Die relevansie van die onderskeid is dat daar verskillende prosesse en vereistes is wat gevolg moet word ten einde regverdige dissiplinêre aksies vir wangedrag of ongeskiktheid onderskeidelik te bewerkstellig.
In Bylaag 8 tot die Wet op Arbeidsverhoudinge 66 van 1995 ("Goeie praktykskode: Ontslag") word alkohol en dwelmmisbruik trouens spesifiek uitgesonder as ? vorm van ongeskiktheid vir diens waarvoor berading en rehabilitasie aan te bevele mag wees.
Die feite van die betrokke geval en die werkgewer se bedrywighede sal weer eens deurslaggewend wees.
Wangedrag kan rol speel
Indien ? werknemer byvoorbeeld willens en wetens onder die invloed van alkohol verkeer en voortgaan om ? 32-ton geartikuleerde vragmotor van die werkgewer te bestuur, sal sodanige werknemer met goeie rede vir wangedrag ontslaan kan word.
Indien ? werknemer egter beweer dat hy of sy aan alkoholisme ly, sal die werkgewer moet oorweeg om eerder ? ongeskiktheidsproses van stapel te stuur wat berading en/of bystand met rehabilitasie mag insluit. Hierdie posisie is egter onlangs deur die hof gekwalifiseer toe die hof bevind het dat die blote feit dat ? werknemer na afloop van ? alkohol-toets beweer dat hy of sy ? alkohol-afhanklikheidsprobleem het, nie die moontlike ontslag van so ? werknemer vir wangedrag heeltemal uitsluit nie. As die werknemer egter geskikte bewyse voorsien, of alternatiewelik reeds voorheen die werkgewer genader met sy of haar afhanklikheidsprobleem, sal die werkgewer liefs ? ongeskiktheidsroete moet volg.
Laastens kan genoem word dat die weiering deur ? werknemer om ? alkohol?toets te ondergaan onder omstandighede wat so ? toets regverdig (en waar daar ? redelike vermoede bestaan dat die werknemer onder die invloed van alkohol verkeer), op sigself ontslag weens wangedrag mag regverdig.
* Geskryf deur Michiel Heyns, ? assosiaat in Werksmans Prokureurs se arbeidsreg departement in Kaapstad. Gedurende sy tyd by Werksmans is hy blootgestel aan ? verskeidenheid arbeidsregkwessies, insluitend kommersiële transaksies en besigheidsherstrukturering, litigasie en geskilbeslegting, nywerheidsoptrede, beroepsgesondheid en -veiligheid en forensiese ondersoeke. Hy het 'n BA LLB-graad van die Universiteit van Stellenbosch. mheyns@werksmans.com