Die direksie en bestuur van die landboumaatskappy Senwes besin oor die maatskappy se huidige dubbele aandeelhoudingstruktuur, en sal in die eerste helfte van vanjaar besluite oor die toekoms hiervan aan sy lede oordra.
Senwes, wat op die ZAR-X-beurs genoteer was, moes sy notering beëindig nadat die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor ZAR-X se lisensievoorwaardes in Augustus 2021 opgeskort het. Sedertdien word Senwes se aandele oor die toonbank verhandel as ’n tussentydse maatreël.
“Op lang termyn wil ons ’n meer verhandelbare omgewing skep. Dit is nie noodwendig dat dit net ’n genoteerde oplossing is nie,” het mnr. Francois Strydom, uitvoerende hoof van Senwes, gesê. Hy het gewys op die eiesoortige omstandighede wat die groep, as ’n landboumaatskappy, moet oorweeg.