
Die omset van die Senwes Groep het met 45,8% verhoog van R7,46 miljard in die 2020-’21-boekjaar tot R10,88 miljard. Die bedryfswins het met 30,9% van R810 miljoen tot R1,06 miljoen toegeneem. In die 2020-’21-boekjaar het die groep sy omset met 57,7% en sy wins met 61,1% verhoog teenoor die vorige boekjaar.
Die wins toeskryfbaar aan aandeelhouers is R601 miljoen, ’n verhoging van 19,2 % teenoor die R504 miljoen van die vorige jaar.
Die goeie resultate word toegeskryf aan ’n uitsonderlik goeie landbouproduksie- en kommoditeitsiklus, tesame met die ontsluiting van sinergie danksy onlangse samesmeltingstransaksies en die herorganisasie van die groep.
“Die wisselvalligheid wat ná die covid-19-pandemie gevolg het, het die wyse waarop besighede hul bestaan en besigheidsmodelle oorweeg, verander,” sê mnr. Francois Strydom, Senwes se uitvoerende hoof.
“Daarbenewens het die Russiese inval in Oekraïne globaal ’n effek op kommoditeitspryse gehad. Dit is duidelik dat ons aanpasbaar en meer innoverend sal moet wees ten einde by ’n snel- en deurlopend veranderde besigheidswêreld aan te pas.”
Hy sê die goeie resultate is te danke aan die volle impak van samesmeltings en verkrygings oor die jare. Dit sluit onder meer die uitbreiding van John Deere na die Wes- en Oos-Kaap, die verkryging van Staalmeester en Falcon, die aandeelhouding in KLK en die oorname van Suidwes in.
“Deur ons toekoms as landboubesigheid te herbedink, het ons nie net ’n verbintenis tot relevansie, innovering en waardeskepping herbevestig nie, maar ook ons belanghebbendes in staat gestel om hul eie besigheidspotensiaal te herbedink en uiteindelik te herontwerp.”
Vooruitsigte
Mnr. Corné Kruger, Senwes se finansiële direkteur, is optimisties oor die groep se vooruitsigte, ondanks die vele probleme wat die landboubedryf in die gesig staar.
“Bonormale grondvogvlakke, hoër wintergraan-aanplantings en ’n groter neiging na sojaboonproduksie word verwag, wat ’n beter balans van die kommoditeitsboek as in die verlede tot volg behoort te hê. Selfs met die buitensporige verhogings in produksiekoste, word verwag dat die vertrouensindeks van landbou en hektare onder verbouing hoog sal bly vir die komende seisoen.”
Strydom sê die verkryging van die John Deere-agentskappe in Duitsland maak deel uit van die maatskappy se toekomsstrategie, veral wat teenwoordigheid in die Noordelike Halfrond betref.
Volgens Strydom is die groep se stabiele finansiële prestasie afhanklik van Senwes se aanpasbaarheid en herskeppingsvermoë om te kan voldoen aan die toekomstige behoeftes van sy diverse kliëntebasis.
Die groep het ’n finale dividend van 34 sent per aandeel verklaar teenoor 32 sent per aandeel in 2021. ’n Spesiale dividend van 56 sent per aandeel is verklaar, teenoor 26 sent per aandeel in 2021. Die netto batewaarde van die groep is verhoog na R19,48 per aandeel teenoor R17,07 in die vorige jaar. Die genormaliseerde wesensverdienste per aandeel was 398,2 sent, wat 62,9% hoër is as die 244,4 sent per aandeel in 2021.
Die groep se finansiëledienste-afdeling het ’n wins voor belasting van R153 miljoen aangeteken, wat ’n 4,8%-verbetering is op die vorige jaar se prestasie. ’n Groeisyfer van 51,3% is waargeneem in die insetverskaffingsegment, met ’n wins voor belasting van R481 miljoen. Die marktoegangsegment het ook uitsonderlike groei van R52,5% getoon, met ’n wins voor belasting van R325 miljoen.
Die enigste onderpresteerder was die verwerkings-, kondisionerings- en marksegment waar die wins voor belasting met 24,1% tot R101 miljoen afgeneem het.