
Die verkryging sal ’n platform vir verdere groei skep, sê mnr. Francois Strydom, uitvoerende hoof van Senwes, in ’n verklaring.
Die drie John Deere-agentskappe in die ooste van Duitsland is Schlieper für Landmaschinen GmbH (Schlieper), Landmaschinen Vertrieb Deuben GmbH (LVD) en Bartling Landtechnik GmbH Hohenseefeld (Bartling Hohenseefeld). As deel van die verkryging sal die drie agentskappe saamsmelt en voortaan as S&L Connect bekend staan, luidens die verklaring. Die maatskappy sal bestuur word deur ’n hoogs ervare Duitse span onder leiding van me. Ricarda Schlieper as besturende direkteur en me. Cathleen Powell as finansiële direkteur.
“Die besigheid is in wese soortgelyk aan Senwes Equipment, veral ten opsigte van die besigheidsmodel, die manier waarop dit gestruktureer is, die bedryf en die produkaanbieding,” sê Strydom.
Strategie
Die verkryging sal geposisioneer word binne Senwes Equipment, ’n volfiliaal van Senwes. Strydom sê die verkryging is in ooreenstemming met Senwes se strategiese filosofie, “spesifiek die strategiese pilaar van eksternalisering wat verdere geleenthede in alternatiewe laerrisikojurisdiksies ontsluit”.
Die verkryging verhoog die maatskappy se blootstelling aan ander groot geldeenhede en bied terselfdertyd verskansing teen die wisselvallige rand.
Hy sê vanuit ’n John Deere-perspektief pas hierdie verkryging in by sy “Dealer of Tomorrow”-strategie wat daarop gemik is om, onder meer, groter en meer volhoubare handelaars wêreldwyd te vestig. Die doel is daarom om John Deere se markposisie te versterk en die sinergieë van groter organisasies te benut. “Gegewe Senwes se bewese rekord as ’n konsolideerder van ondernemings in familiebesit en die omskakeling daarvan in suksesvolle korporatiewe entiteite, het John Deere aan Senwes die geleentheid gebied om aan die verkryging deel te neem.”
Senwes maak nie in sy verklaring bekend hoeveel die belegging hom gekos het nie, maar die verkryging is volgens die markontleder mnr. Anthony Clark van Smalltalkdaily Research sowat €23,7miljoen (R390 miljoen) werd. Hy glo die diversifikasie sal die maatskappy beskerm teen risiko’s soos die wisselende waarde van die rand en mielies.